21
Sat, Dec

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vandeesweek se uitgawe van “raak die ‘klits’ kwyt” was weer een van daardie hoogtepunte wat ‘n mens nie maklik vergeet nie. Net voordat twee ligte reënbuitjies Sondag- en Maandagaand uitgesak het, het Rustenburg en omgewing weer behoorlik uitgebraai met die jongste hittegolf oor groot gedeeltes van die land. Ons het toe vir Marinda van Wyk van Nostalgie Tuisgebak (Landdrosstraat 4) en haar mamme (Marie Ludick) gevra om vir ons ‘n lekker “koue ietsie” te maak met die oog op ‘n snikwarm Desember-vakansie wat waarskynlik voorlê.

En daar vang die reëntjie ons toe met die spreekwoordelike broek op ons knieë maar nee, ons is nie verleë nie – Marinda en Marie se varsgebakte wafels met bloubessie- en aarbeisous is uit hierdie wêreld soos die mense deesdae praat en jy sal jouself baie gewild maak indien jy jou gesin of ander gaste met hierdie watertand-lekkerny bederf. 

Hierdie is ‘n resep wat jy eenvoudig moét uitknip en bêre om so gou as moontlik te probeer. 
As jy regtig nie kans sien om jou slag met hierdie lekkerny te probeer nie – daar is ‘n maklike oplossing – skakel Nostalgie Tuisgebak by 082 455 5225 en plaas jou bestelling! 

Wafelstroop

250 g heel aarbeie
150 - 250 g heel bloubessies
30 ml Maizena
250 ml suiker
10 ml Vanieljegeursel
‘n Knippie sout
500 g fyngekapte aarbeie

Kap heel aarbeie en Maizena fyn in voedselverwerker. Plaas saam in pot met ander bestanddele en kook tot verdik en stroperig. Gooi stroop mildelik oor jou wafel met ‘n skeppie roomys. 

Wafelbeslag

375 ml koekmeelblom
15 ml bakpoeier
2.5 ml sout
10 ml (2 tlp) suiker
250 Melk
2 eiers, geskei
45 ml (3 eetlp) botter of Margarien, gesmelt. 

Metode

Sif die eerste drie bestanddele saam en voeg suiker by. Voeg melk geleidelik by en meng goed na elke byvoeging. Klits eiergele en voeg by. Voeg gesmelte botter ook by. Klits eierwittte styf en vou in. Bak wafels in ‘n warm wafelpan tot lig goudbruin, haal uit wafelpan, laat effens afkoel, smeer/skep met lekkerste sousie en bedien.