21
Sat, Dec

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In die volksmond word daar gepraat van “bak en brou” en dis presies wat gebeur het toe Rustenburg Herald se eie Marise Le Roux en haar onderwyseres-vriendin, Dianne Norval (wat beide geensins as bobaas-baksters beskryf kan word nie), dié week besluit het om húl weergawe van vlaskywe (met sjokolade ganache-versiering) met lesers te deel. Dianne maak gewoonlik staat op haar ma, Gerda, se baktalente as die soettand pla, maar dié keer wou die vriendinne wys dat hulle darem ook iemand aan die lewe sou kon hou met ietsie soet as die Marsmannetjies land. Tradisioneel word vlaskywe met wit versiersuiker getooi, maar dié twee het besluit om so klein bietjie “uit die boks” te dink en die vlaskywe met ganache te maak. Niks het aangebrand of ontplof nie en weliswaar het die baksel gestol en die baksters het dit selfs met kersies versier! Nie te sleg nie – al moet ons nou self so sê!

Bestanddele:
1 Pak (200g) Cream Cracker-beskuitjies
1 Liter melk
200g (250ml) Suiker
50g (60ml) Botter of margarien
60g (120ml) Koekmeelblom
50g (100ml) Mielieblom
10ml Vlapoeier
2ml Sout
100ml Koue water
3 Eiers, geskei
5ml Vanieljegeursel
Een stafie/blok baksjokolade
250ml Room

Metode:
Smeer ‘n vlak glasbak van 35x25x5cm (of spuit met kleefwerende middel.)
Pak 15 van die Cream Crackers in rye van 5x2 op die boom van die bak en sorg dat die halveringslyne van die beskuitjies almal in dieselfde rigting lê. 
Verhit die melk in ‘n groot kastrol tot kookpunt. Voeg die suiker en botter (of margarien) by en roer tot gesmelt. Haal dit van die stoof af.
Meng die koekmeelblom, mielieblom, vlapoeier, sout en koue water deeglik. 
Voeg die eiergele by en klits goed. Klits van die melkmengsel geleidelik by die vlamengsel. Gooi dit terug in die kastrol by die res van die melk. Roer aanhoudend oor lae hitte en kook sowat 5 minute, tot dik. Haal van die stoof af en roer die vanieljegeursel by. Klits die eierwitte totdat sagte punte vorm. Vou die eierwitte liggies met ‘n metaallepel in die vlamengsel in.
Gooi die warm vla oor die beskuitjies in die bak. 
Bedek die vla met ‘n verdere 15 beskuitjies win rye van 5x3 en sorg dat die halveringsrylyne in dieselfde rigting as die onderste laag s’n lê. 
Laat die vlavulsel afkoel en plaas dit in die yskas om heeltemal koud te word. 
Hou die mengsel in die yskas tot benodig. Sny die vlaskywe so groot soos halwe kraakbeskuitjies wanneer jy dit opdien.