21
Sat, Dec

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Wie van ons is nie absoluut gek oor malvalekkers nie? Nie? Goed, dan hou jy seker van “marshmallows” – noudat die meeste mense weet waarvan ons praat. Daar is iets tradisioneels aan die meeste Suid-Afrikaanse lekkernye – of dit nou biltong, toffie-appels, “fudge”, “klappery-ys” (coconut ice) of wat ook al is. Net so met malvalekkers – wie het nie al laataand saam met die kinders om die vuur gesit en malvalekkers op ‘n stokkie “gebraai” nie? (Wel – ek moet darem sê, hoewel die vuur-ding die meeste van die tyd sommer baie lekker pret is, verkies ek die marshmallows in hul oorspronklike toestand – dit is net asof daar minder “mallow” en meer “mellow” is wanneer die ding op ‘n stokkie gebraai is en op die ou end is jou klere en hande ‘n taai spulletjie – maar ja, vir die kinders is dit seker maar deel van die pret.

Elk geval – in vandeesweek se “kook” span Bronwyn Mienie en ja, glo dit as u wil, haar oumagrootjie (Sunette Botha – ja, Sunette van VLU-faam) in die kombuis saam en maak vir ons heerlike, tuisgemaakte “marshmallows”. En hier is ook ‘n storie. Bronwyn wat op 25 Februarie ‘n volle 12 jaar oud is, is eintlik al lankal besig met ‘n baie spesiale projek. Bronwyn se peetpa, (Danie Coetzee – “Cuzzy”) is verlede jaar aan kanker oorlede en sedertdien maak sy gereeld ‘n “baksel” of twee van ouma se malvalekkerresep wat sy by die skool of sommer enige plek ten bate van Kansa verkoop. 
En moenie ‘n fout maak nie – hierdie marshmallows is heerlik – ons kon onsself omtrent nie bedwing nie en die klompie wat ons saam huis toe gekry het, was nie eens naastenby genoeg nie. Maar nouja, soos die Engelse sê – “here goes…”

Bestanddele
30 ml gelatien; 
60 ml koue water;
500 ml suiker;
1 ml sout;
30 ml goue stroop;
190 ml kookwater;
2 eierwitte;
5 ml vanieljegeursel;
Botter;
Versiersuiker of strooisuiker.

Metode:
Week gelatien in koue water. Roer suiker, sout, stroop en kookwater in ‘n kastrol tot suiker opgelos is. Kook sonder om te roer tot die mengsel ‘n sagte “bol” vorm as dit in koue water getoets word (114.4°C by seevlak). 
Haal kastrol van stoof as en voeg geweekte gelatien by. Klop die mengsel tot dit wit is. Klits die eierwitte styf en voeg dit by. Klop die mengsel tot dit dik en draderig is. Voeg geursel by en meng goed. 
Giet in vlak pan van so 220 cm-vierkant wat met botter gesmeer is en met versiersuiker besprinkel is. Sif versiersuiker ook bo-oor en laat toe om te stol. Sny in blokkies, rol in versiersuiker en skakel ons – uuhhh, ons bedoel - dit is gereed om bedien te word…
Met die volgende skoolvakansie wat oor net meer as ‘n maand aanbreek, is hierdie ‘n resep wat u nie te diep moet bêre nie – die kinders en ja, grootmense ook – sal dit baie geniet. Andersins kan jy sommer Bronwyn se telefoonnommer neerskryf en ‘n goeie saak ondersteun – haar mammie (Niekie) kan by 082-909-9987 geskakel word.