20
Mon, May

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In ons weeklikse “Raak die ‘klits’ kwyt”-reeks het ons al telkemale lekkernye van allerhande kleure en geure van modern tot tradisioneel voorgesit en as ek reg onthou, dink ek om die waarheid te sê - dadelballetjies was al by geleentheid op die spyskaart. Maar ja, hierdie is een van daardie lekkernye waarvan ‘n mens werklik nie genoeg kan kry nie en waarvoor ‘n mens eintlik maar altyd ‘n groterige houertjie in die “spens” of ander wegsteekplek moet hê wat toevallig ook nie maklik leegloop nie. Die goeie ding van dadelballetjies is dat hoewel dit effe aan die soeterige kant is, is dit nooit só soet dat die kinders dit glad nie kan weerstaan en dikwels met die bak vol lekkergoed wegraak nie. 
Dit is ‘n lekkerny ideaal vir ‘n lekker lang sessie voor die TV, daardie tranetrekker waarvoor jy nou al lank die lippe aflek en ja, sommer ‘n lekker groot bak langs jou gunsteling-leesstoel wanneer manlief en die seuns dalk vir die dag rugby toe is. Maar hou die houer maar goed en dig toe - mans is oor die algemeen baie lief vir hierdie bolletjies... By ons laaste kuiertjie by die Koster-tak van die VLU in die Platinastreek het Elma Botha vir ons ‘n stewige bordjie van haar dadelballetjies voorgesit en ons het lekker gesmul...
Ongetwyfeld een van die beste “kwaliteite” van dadelballetjies is die feit dat dit so maklik is om te maak en dat ‘n mens net ‘n baie klein tydjie nodig het om dit betyds vir jou kuiertjie of alleen-ontspan te maak. En natuurlik - as jy dan nou uit voorraad hardloop, kan jy as’t ware gou weer terug kombuis toe trippel en nog ‘n paar mooi balletjies aanmekaar rol... Elma se resep lyk só:

Bestanddele:
1 koppie suiker
1 pak Mariebeskuitjies
500 g dadels
klapper
250 g Margarien
10 ml Vanielje-ekstrak
3 koppies Rice Crispies

Metode:
Smelt die Margarien en suiker saam. Sny dadels mooi fyn en voeg by die gesmelte Margarien en suiker. Haal van stoof af en voeg Vanilla-ekstrak by. Roer fyngemaakte Mariebeskuitjies en die Rice Crispies by. Roer dit goed deur en vorm mooi ronde balletjies - rol dit deeglik deur die klapper en laat eenkant om te set tot jy dit voorsit.