21
Sat, Dec

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Agri-Pulse-Voordwes – In Noordwes VLU-kringe het Elsa van Rooyen nie veel bekendstelling nodig nie en onder die “lekkerbekke” (met respekte gesê) soos ek dalk nog minder.
Elsa is onder die vlytige dames en almal met ‘n soettand bekend as die dame met wie jy moet rekening hou as jy met een of ander soetbederf teen jou VLU-kollegas of ander skou-inskrywings wil meeding. Na etlike jare se soet-gewoel in die kombuis spog Elsa met ritse trofeë op haar rakke en ‘n kuiertjie by die Van Rooyen-woning is gewoonlik ‘n soete ervaring.
Ons het Elsa gevra of sy nie vir ons so op die drumpel van die vierde kwartaal wil wys hoe sy heerlike lekkergoed en lekkerbek-bederf vir groot en klein met verbeeldingryke idees optower nie. Elsa maak dus vandeesweek “vrugtelekkers” – nee nie daardie bekende (maar ook baie lekker) Suid-Afrikaanse suiker-vrugtelekkers nie, maar lekkergoed in die vorm van miniatuur-vrugte bykans net soos die gewilde klapperys. Maar dan maak sy ook ‘n ietsie vir na die ete, stukkie koek of wat jy ook al geniet het en nee, dit is nie mosterd nie die maal nie, maar peppermentlekkers…
Behalwe dat dit geurig en lekker stroopsoet is soos lekkergoed nou eenmal moet wees, is Elsa se skepping al te fraai om na te kyk en benewens die smaak van die soetgoed, kan sy gewis maar nog ‘n prys vir die voorkoms daarvan kry. Elsa maak haar “vrugte”- en peppermentlekkers so:

“Vrugtelekkers” (amper net soos klapperys)

Bestanddele:
• 1 koppie fyn klapper
• 4 tot 5 eetlepers kondensmelk
• ½ pakkie jelliepoeier in die geur wat pas by die vruggie wat jy wil maak – byvoorbeeld lemoengeur vir lemoenvruggies. Vir die blare van die vruggies – sien onder…  

Metode
Die res van die resep is eenvoudig so maklik soos val uit ‘n boom uit. Jy meng bloot alles saam tot ‘n werkbare deeg om jou vrugte te vorm en as dit dalk ‘n bietjie droog is, kan jy nog ‘n titseltjie kondensmelk byvoeg!

Bestanddele:
• Peppermentlekkers en blare van vruggies
• 500 g versiersuiker
• 2 eetlepels vloeibare glukose
• 1 eetlepel gelatien
• ½ koppie water
• Peppermentgeursel

Metode:
• Verhit water en roer gelatien en glucose in tot dit smelt maar moenie kook nie.
• Voeg by versiersuiker en as dit nodig is kan jy nog ‘n bietjie versiersuiker of water byvoeg om ‘n werkbare “deeg” te vorm.
• Onthou versigtig - versiersuiker het letterlik net ‘n druppeltjie water nodig om ‘n hanteerbare smeersel/degie te vorm.
• Vorm nou jou peppermentlekkergoed in jou keuse van vorm en natuurlik die blaartjies van die vrugtelekkers bo, met die hand.
• Enige geursel kan vir smaak bygevoeg word.

Goeie raad: Maak sommer ‘n hele klompie van hierdie heerlike eetgoed as jy weet dat die kinders of kleinkinders gaan kom kuier. Elsa se lekkergoed is eenvoudig onweerstaanbaar lekker en verdwyn onverklaarbaar vinnig uit die skinkbord of koekblik!