20
Mon, May

Cookies
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Wel dames, die afgelope twee weke het ons in ons kook-uitstappie Derby toe met lekker etes gespog waarop die gesin veral in die komende winter maande al te lekker trakteer kan word. Beide Annamarie van Niekerk se quiche en Grieta Botha se groentegereg is etes wat lekker maklik en vinnig is om aanmekaar te sit en sal ‘n yskoue en honger lyf in ‘n japtrap die nodige hitte-energie gee. Maar nee, ons wil darem nie altyd net “kos” maak nie - ‘n lekker peuseldingetjie is maar altyd gewild en wat van ‘n blik soetkoekies wat “bult” staan as die familie of vriende kom kuier en daar word heerlik in die voorkamer (TV-kamer) gekuier. Dit is nou wel Bulle-wêreld hierdie maar ai, die Sharks het darem maar pragtig gedoen met daardie moeilike kragmeting teen die Crusaders en dit nogal met 13/14 man? 
So - dit nou ‘n lang inleiding om vir julle te vertel dat ons vandeesweek sommer net soetkoekies bak - maar besondere koekies - inderwaardheid “koffiekoekies” soos hulle in die volksmond bekend staan. Hierdie weergawe van Annerie is egter oulik - want hulle is so ietwat groter as die gewone koffiekoekie. Maar wees versigtig - maak van die begin af ‘n stewige, groot beter koffie - Annerie se koffiekoekies is net so “dors” soos die grootste voorstoep-koffiedrinkers en slurp jou koffie vinnig-vinnig op.

 As jy hou van so minstens drie koekies saam met jou koffie, kry vir jou ‘n beker met ‘n boepmakie of nog beter - maak ‘n tweede koppie. 
Annerie het ons bederf en vir ons ‘n hele sak van die lekker koffiekoekies saam huis toe gegee, maar met die kinders in die huis het dit nie eers gehelp om dit in die kas weg te steek nie, dit het nie lank gehou nie. 
Nou goed - Annerie se koffiekoekies is eenvoudig - sy maak hulle so:

Bestanddele
2kg koekmeel 
100g varkvet
250ml koffie-essens (geursel)
500g bruinsuiker
25ml koeksoda
7ml sout
750g botter/margarine
12,5 Vanielje
500g goue stroop

Metode
Meng al die bestanddele saam en laat ‘n paar minute staan. Fatsoeneer koekies met ‘n vleismeul-koekiemaker of jou eie koekie-”masjien”. Bak teen 180°C tot mooi bruin - haal uit an laat afkoel. Neem nou jou koekies twee-twee en smeer ‘n stewige lagie koffieversiersuiker tussen twee-twee-koekies met die “magies” teen mekaar.
Op ‘n koue, renerige dag moet jy seker maak dat die blik koffiekoekies baie naby (of as die kinders by die huis is - baie ver) staan. Ai - waar is my boeretroos?