20
Mon, May

Cookies
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Een van die heel aanvanklike oogmerke van ons reeks “Raak die ‘klits’ kwyt”, was om ons lesers die geleentheid te gee om die geregte/disse, koeke/terte soettand-happies of lekkernye van hul keuse vir ons “kook” voor te berei. Daarom dat dit nou al ‘n ongeskrewe reël geword het dat tradisionele happies, geregte of watter lekkernye jy ook al aan kan dink, loshande die meeste van die tyd voorgesit word. 
En daarmee het ons geen probleem nie – trouens, daar is al menigmaal geskimp dat die Herald se reeks “Raak die ‘klits’ kwyt” by geleentheid in boekvorm moet verskyn. Ja, ons het al talle kere hieraan gedink en ja, ons lesers se oorspronklikheid en kundigheid sal op die ou einde uiteraard die lewensvatbaarheid van so ‘n boekie bepaal.
Daarom dat ons sommer hier en nou weer ‘n uitnodiging aan ons lesers rig om asseblief tog maar van hulle te laat hoor en ons te skakel met die kosbare en dikwels onvervangbare resepte en kombuisgeheime waarmee baie van ons lesers in hul resepteboeke spog. 
Maar nee, ons stel darem nie net in tradisionele resepte en geregte belang nie, ons wil graag publisiteit gee aan enigeen uit ons geweste wat bereid is om sy/haar gunstelingresepte met ons te deel – selfs al is dit so “alledaags” soos ‘n lekker tuisgebakte brood, potjiekos, ‘n maklike en smaaklike poeding, ‘n watertand-koek, ‘n uitsonderlike vegetariese gereg of slaai, of ja, enigiets dergliks en/of tussen-in.

Daar is letterlik nog honderde (indien nie duisende nie) resepte wat nog nie op ons warmplaat, mikrogolfoond of braaivuur beproef is nie. Indien jy genoeg vrymoedigheid het, skakel Waldie Volschenk gerus by (014) 592-8329 gedurende kantoorure.
Nouja, genoeg gepraat. In hierdie uitgawe ietsie wat jy gerus vir die volgende skoolvakansie of sommer net ‘n langnaweek (soos die pasafgelope) kan probeer. Hierdie is ‘n baie maklike en heerlike resep wat enigiemand in ‘n japtrap kan maak.
‘n Mens kan nooit genoeg gemmerkoekies in jou koekblik hê nie – al is jou gaste rietskraal van die een dieet na die ander. Vandeesweek se resep kom van tant Matty Everson – ‘n senior-inwoner van Huis Sering. Tant Matty maak haar gemmerkoekies so:

Bestanddele:
1 kg meel; 
20 g koeksoda;
1.5ml sout;
65 ml gemmer – as jou gemmer baie sterk is – dalk ‘n bietjie minder;
250 g margarien;
500 g stroop;
3 eiers (geklits);
500 g bruinsuiker – maak seker dat die suiker lekker “los” is en dat die suikerkorrels nie aan mekaar vasklou nie.

Metode:
Sif die meel, koeksoda, sout en gemmer saam. Vryf dan jou botter/margarien in die meelbeslag in. Voeg die bruinsuiker by en meng baie goed. Voeg die eiers by, dan die stroop en knie die deeg “deeglik” (hoe dan nou anders?)

Maak ronde bolletjies van min of meer die grootte soos jy van jou koekies hou en druk mooi en egalig plat dat die koekies min of meer almal dieselfde grootte is. Pak dit uit op ‘n gesmeerde bakplaat en bak vir ongeveer 15 minute in ‘n matige oond of 180°C. Maak seker dat die koekieblik of bottel se deksel sommer baie styf kan toeknip/draai…