20
Mon, May

Cookies
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die meeste mense in die wêreld van vandag is gaande oor die veeldoelige en uiteenlopende gebruike van die beskeie grondboontjie en daar is min van ons wat nie daarvan hou om met ‘n lekker stewige sakkie of bakkie grondboontjies vir ‘n lekker fliek voor die tv in te skuif nie. Daar is eintlik net twee dinge van grondboontjies wat soms effens lastig is naamlik dat die befaamde grondboontjie maar ‘n baie klein “vruggie” is met slegs twee klein “boontjies” op ‘n slag en dan natuurlik ook die feit dat dit natuurlik heelwat moeite is om dit af te dop. 
Vir mense wat lief is vir grondboontjiebotter op brood en soortgelyke happies of diegene wat gereeld afgedopte grondboontjies koop, is daar slegs een probleem en dit is die feit dat die grondboontjie/botter betreklik vinnig opraak. 

Nouja, gedagtig aan die rillermaand van Januarie nadat almal lekker vakansie gehou het, ons huishoudelike begrotings verwoes of geknou het en die rande tot die einde vandeesmaand moet rek, besef ons dat baie Rustenburgers nie hierdie tyd van die maand sal kans sien vir een of ander eksotiese versnapering, lekkerny of eetgoed nie, veral nie na ‘n luilekker-vakansieseisoen nie. Het jy egter geweet dat dit vreeslik maklik en aansienlik goedkoper is om die lekkerste soetkoekies met net ‘n paar skeppies grondboontjiebotter, ‘n koppie suiker en slegs een eier kan maak? So maklik soos val uit ‘n boom uit!

Bestanddele:

250 g Grondboontjiebotter
250 ml Suiker
1 Eier

Metode:

Meng die grondboontjiebotter, suiker en een eier in ‘n mengbak. Om dit makliker te maak om die ietwat stywe grondboontjiebotter te meng of te roer, kan jy dit vir omtrent ‘n minuut in die mikrogolf plaas sodat dit effens loperig word. Skep dan in die mengbak en meng goed met die suiker en eier. Rol jou eenvoudige beslag in netjiese ewe groot bolletjies uit, plaas ewe ver van mekaar op bakpapier in oondpan en druk met ‘n vurk effens plat vir ‘n afgeronde voorkoms wat darem soos ‘n koekie lyk. Nou nog net die bakproses – bak vir nagenoeg 10 minute teen 180°C en hou maar goed dop sodat die koekies nie brand of te droog bak nie. Die kleur van jou koekies sal vir jou ‘n aanduiding wees wanneer dit min of meer gereed is om uitgehaal te word. Haal oondpan uit, laat afkoel en dit is gereed om bedien of uitgehaal en gebêre te word. Sluit die koekieblik maar effens toe as daar ‘n jongklomp by jou in die huis is. 
Soos gesê – die koekies is geneig om vinnig op te raak – of dit nou botter of “koek” is!