18
Mon, Nov

Pastries
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die Rustenburg Herald het met hierdie week se resep sommer twee vlieë met een klap doodgemaak: ‘n “Rustenburg Herald raak die klits kwyt”-uitgawe vir hierdie week waarin een van die koerant se mees noodsaaklike departemente deelneem en ‘n vinnige, maklike resep vir die besige werkende mamma.
Die Rustenburg Herald se uitlegspan werk nie net daaraan om te verseker dat u hierdie koerant en die 30 000 ander eksemplare van hierdie week se koerant kan geniet nie maar doen ook die grafiese ontwerp vir verskeie van ons ander susters-koerante soos Brits Pos, Noordwester, Stellalander, Gemsbok, Mahikeng Mail en die Agri-Pulse.
Dit is maklik oor die 100 000 koerante per week waaraan hierdie dames werk – en dan moet hul nog kos maak in die aande!
Om daardie rede het hul besluit om ‘n ou gunsteling vir die Rustenburg Herald te maak – ‘n tuna-poffer wat in ‘n skilferkorsdeeg voorberei word.
Hierdie ete is basies net meng en gooi in die oond (onthou net om dit uit te haal!). Dit is perfek vir wanneer jy twee besige kinders in die huis het, plus een op die heup en nog een op pad soos hul sê. Geniet hom!

Bestanddele:
1 blik tuna, gedreineer
2 eiers
½ koppie kaas, gerasper
1 eetlepel pietersielie
80 ml room
Skilferkorsdeeg

Metode:
Spuit ‘n muffin-pan met Spray & Cook uit en sny die skilferkorsdeeg in vierkante.
Voer holtes van die pan met die deeg. Meng die bestanddele saam en skep lepels vol in elke holte. Bak teen 180°C vir 15 tot 20 minute tot goudbruin.
Sit voor met n lekker mengelslaai en geniet ‘n wonderlike ete vir die besige werkende moeder.