20
Mon, May

Pastries
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Daar is seker nog niemand wat min of meer net naby Rustenburg verbygery het sonder om in een of ander lid van Rustenburg se legendariese Wissekerke-familie vas te loop. Ja, "vas te loop" is een ding, maar in Rustenburg is daar sekerlik duisende inwoners wat een, 'n paar, of almal van die Wissekerke-familie geken het weens hul uiteenlopende belange en geaardhede wat gewissel het van enigiets rondom besigheid tot sommer net goeie vriendskappe wat oor baie jare heen gesmee is.

As 'n mens die dag by 'n familiebyeenkoms, 'n reünie of 'n braaivleis begin om oor die Wissekerkes te gesels en hoe die vurk heeltemal in die hef steek, moet jy maar byvoorbaat jou glasie gaan volmaak want dit gaan 'n lang gesels wees...
Vandeesweek in ons kook- of kosmaakrubriek skuur ons skouers met twee ewe-legendariese Wissekerke-skoonsusters wat mekaar al geken het toe Rustenburg as't ware nog in sy kinderskoene gestaan het en toe baie van ons nog maar 'n vonkel in ons pa's se oë was - so lui die storie mos...? 

Emma en skoonsus Suzie Wissekerke het in 1968 amptelik skoonsusters geword. In dié jaar is Emma met Fanie Wissekerke getrou - "toe was Suzie en Clarence al 'n klompie jaar of twee getroud" - vertel Emma. Skoonsusters vir nie minder nie as 47 jaar en goeie kennisse vir 'n goeie 50 jaar - kan jy dit glo? Ja die lewe loop snaakse draaie met 'n mens en mense sal jou maklik vertel hoe die lewe se vreugdes en hartseer geneig is mense nader aan mekaar te bring - veral as hulle reeds voorheen familie was...

Maar nouja, terug na vandag en Huis Sering waar Emma en Suzie nou al so net oor die twee jaar mede-inwoners is. Ons het hulle twee omgepraat gekry om vir ons 'n gunsteling-familieresep te maak en 'n sout-tert was vir die twee feitlik voor-die-hand-liggend. Die Wissekerkes maak dit so:

'n Regte Wissekerke Sout-tert

Bestanddele:

1 kg ham in kleinerige blokkies gesny
500 g Cheddar-kaas - ook in klein blokkies gesny - doen hierdie belangrike stap eerste...
Klop dan saam:
6 tot 8 eiers
twee koppies melk.
Voeg bogenoemde by die volgende en meng goed saam:
2 eetlepels mosterd
2 groot opgehoopte eetlepels koekmeel
sout en peper
'n paar takkies pietersielie om jou tert te versier en te garneer...

Wanneer jy jou hele tertbeslag deeglik gemeng en in 'n vuurvaste oondbak geplaas het, kan jy so 'n knippie rooipeper daaroor strooi - net 'n knippie hoor - nie te veel nie!
Plaas dan in die oond en bak vir nagenoeg 'n driekwart uur - moontlik 'n klein bietjie langer - teen ongeveer 160°C. Wanneer dit gaar is en uit die oond gehaal word, laat jy dit 'n bietjie afkoel en garneer dan met 'n paar takkies pietersielie...

Die wonderlike ding van sout-tert is dat dit feitlik nooit presies dieselfde is nie, dat dit vir lank gebêre kan word, dat dit koud of warm baie lekker is, en laastens, dat daar amper niemand is wat nie gek is daaroor nie. Boonop is dit 'n maklike, voedsame en ekonomiese manier van kos maak - veral vir iemand wat op vakansie is en gereed wil wees vir die mans en kinders wanneer hulle honger van die viswater of uit die jagveld kom... Dankie julle voorslag-skoonsusters!