20
Mon, May

Vegetables
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In ons weeklikse kookrubriek het ons dit al een- of tweemaal “reggekry” om sommer ‘n “reeks” kookartikels by ons gashere te kry – deels omdat die verskeidenheid resepte/disse wat vir die dag voorgesit is so voortreflik en uiteenlopend was dat ‘n mens voel jy sal daaraan afbreuk doen deur dit as ‘n gekombineerde “buffet” wil ‘n mens amper sê – aan te bied. Andersins omdat ‘n mens soms so absoluut behaaglik kuier en geniet waarop jy getrakteer word, dat jy die oomblik en sy herinneringe behoorlik wil koester en soos die gonswoord deesdae lui: “toegevoegde waarde” uit die geleentheid wil put. ‘n Onlangse kuiertjie by Biki-bini-bos - die gasteplaas van bekende Rustenburgers Piet en Martie Els en hul “kroos” Giselle en Carl Nicholson ‘n hanetreetjie buite die stad, het ons kookspan gou laat besef dat hierdie “kook” nie in een aanbieding moontlik is nie. Nee, daarvoor was die gasvryheid te hartlik, die geselskap te verkwiklik, die wintervuurtjie te snoesig en die spyskaart… Ja, soos ons reeds gesê het – die spyskaart kom in drie aflewerings oor die volgende paar weke en Rustenburgers wat toegewyde “volgelinge” van hierdie rubriek is, sal wys wees om ‘n spesiale lêertjie vir hierdie reeksie te maak…
Eerste aan die beurt is Martie se heerlike gevulde botterskorsie-resep en ja, moet dit dan altyd op ‘n plaas of in die natuur wees dat ‘n mens besef watter wonderlike verrassings daar in eenvoud wag? Martie se skoonseun (Carl) is veral lief vir hierdie spesiale weergawe van “bottersoet-pampoen”. Martie maak dit so:

Bestanddele
1 of 2 of meer botterskorsies – na gelang van die hoeveelheid gaste aan jou tafel; 
Vars of gedroogte pietersielie;
Gekrummelde Feta-kaas;
Bruin uiesoppoeier;
Rooi uie in ringe gesny;
Botter.

Metode
Halfeer jou botterskorsies in die lengte. Skep die pitte uit. Strooi jou bruin uiesoppoeier oor die botterskorsies en vul dit met bogenoemde bestanddele. Plaas klontjies botter bo-op, draai toe in foelie en bak oor die kole tot heerlik sag.
Hierdie is een van daardie resepte waarmee ‘n mens ‘n bietjie kan eksperimenteer. Jy kan die botterskorsie vul met bykans enigiets waarvan die gesin of jou gaste baie hou en dit kan sommer as ‘n pragtige oggendhappie vir jou gaste of ‘n smaaklike voorgereg vir nog ‘n groter maaltyd dien. Maar moenie skaam wees met die porsies nie – jou gaste sal aangenaam verras wees en dit is onwaarskynlik dat een kleinerige porsie per gas genoeg sal wees. Boonop is dit so eenvoudig dat enige pampoenkop dit kan maak. In ons volgende aflewering van “Raak die ‘klits’ kwyt” wys Carl Nicholson vir ons hoe om ‘n fantastiese wildsfillet in room en sampioensous oor die oop vuur te maak – moenie dit misloop nie! Dankie Martie!