20
Mon, May

Vegetables
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vir die laaste klompie weke van vanjaar se “somer” raak die opsies by die gebruiklike braaivleisvuur so stadigaan minder. As die aandluggie begin koel word en dalk nog ‘n rapsie later wanneer dit regtig begin koud raak, is braaibroodjies en aartappelslaai dalk nie meer die regte ding nie. Vir die wintersaande soek ‘n mens tog maar ‘n ietsie met ‘n bietjie meer om die lyf en die waarde van ‘n warmgereg om jou braaivleisie te komplimenteer kan nie onderskat word nie. Tydens ons onlangse kuiertjie by VLU-dames se Derby-tak het Grieta Botha haar inspirerende groentegereg met ons gedeel. Dit is voorwaar inspirerend omdat dit vir ma eintlik die wêreld baie makliker maak wanneer pa besluit om sy braaivoorskoot aan te trek en soos altyd maar net aanvaar dat “iets” uit die kombuis sy verskyning sal maak om saam met die braaihappie geniet te word. 
Manlief en die res van die geselskap sal inderdaad aangenaam verras wees as jy met dié “skepping” in die lapa opdaag. Grieta se groentegereg is baie veelsydig en kan op sy eie of saam met ‘n broodjie of braaivleis bedien word. Dit is boonop maklik om te maak en sal jou skaars 20 minute tot ‘n halfuur besig hou... Grieta maak dit só:

Bestanddele 
500g klein aartappeltjies
250g babawortels
250g vars sampioene
250g murgpampoentjies
250g klein geel “patty pans”
500ml room
1 pakkie dik wit uiesoppoeier
Cheddar-kaas

Metode
Was die aartappels mooi skoon en kook dit halfpad gaar. Pak dit onder in ‘n vuurvaste oondbak. Pak die worteltjies bo-op. Sny murgpampoentjies, “patty pans” en sampioene middeldeur en pak dit op die wortels. Meng die sopppoeier met die room en gooi bo-oor groente. Sit die deksel of foelie op en bak tot die groente sag is. Strooi Cheddar-kaas bo-oor en bak vir nog 15 minute in ‘n oond sonder die deksel. Bedien saam met lekker braaivleis en varsgebakte brood. Opsioneel: ‘n Pakkie roomspinasie kan oor die groente gestrooi word voordat die room en sop oorgegooi word. Lekker eet.