Suid-Afrikaners is tans in ‘n feestelike luim – hoe dan nou anders, met kersfees en die Desembervakansie net om die draai? Hier op die Suiderpunt van Afrika is ‘n wit kersfees iets wat ons nie beskore is nie, maar swem, braai en familiekuiers is beslis hoog op die agenda. Vir dié van ons wat die dolheid van voor-braai-bedrywighede so bietjie minder wil maak, is Anja Nieuwoudt se paptert-“relish” beslis die antwoord. Hierdie unieke sous kan vooraf gemaak en gebottel word en vir maande gebêre word. Anja het ook met dié resep met die titel van takwenner van die VLU se Kashane-aandtak weggestap toe Miami - wat bekend is vir hul geurige geblikte produkte - ‘n landswye kompetisie onder die VLU geloods het. Anja is nou drie jaar deel van die Kashanetak en sê sy geniet die samehorigheid onder die dames wat mekaar bemagtig en nuwe dinge te leer.
Haar paptert-“relish” se resep kan aangepas word deur sekere bestanddele weg te haal of by te sit – maar die Miamai Boerie en Braai Relish bly steeds die belangrikste toevoeging.
Sit dus die voorskote aan en slaan dié sous sommer gou-gou aanmekaar, die gaste wil vuur aansteek…
Bestanddele:
1 blikkie Miami Boerie Relish
1 blikkie Miami Braai Relish
2 fyn gekapte uie
1 pakkie sampioene, gesny
½ blikkie mieliepitte
1 knoffelhuisie
½ rooirissie, gesny
½ groenrissie, gesny
½ geelrissie, gesny
Klein bakkie spinasieblare, opgekap (opsioneel)
Sout en peper
‘n knippie “Wowmix” (gemengde speserye soos paprika, mostert, gemmer, kaneel - opsioneel)
Olyfolie
Water – soos benodig
• Braai uie en knoffelhuisie in ‘n bietjie olie in ‘n pot, tot sag
• Voeg die reënboogrissies en sampioene by en kook saam tot sag
• Voeg die blikkies Miami Relish by en kook goed deur (ongeveer 10min)
• Voeg speserye by – volgens smaak
• Bottel en bêre
Ideaal bedien saam met pap of paptert tydens ‘n braai.