21
Sat, Dec

Chowder
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Geen winter-uitgawe van Rustenburg Herald se kook- of kosmaakrubriek sal volledig wees sonder ‘n lekker eenvoudige weergawe vir ‘n pot geurige wintersop nie. Met die félheid van vanjaar se nogal erg koue winter is daar seker heelwat inwoners van ons dorpie wat hulle die afgelope tyd tot eenvoudige “boeresop” gewend het om die ergste koue te verdryf. Met die maandeinde nou gevaarlik naby en die koskaste ‘n bietjie leër as gewoonlik, is die goeie nuus dat die winter nog nie verby is nie. Kom probeer gerus hierdie potjie sop van Alexis Agenbag – dalk verstaan jy na dese Esau se penarie met Jakob se lensiesop (gortsop) beter? 
Alexis noem hierdie eenvoudige sopmetode sommer “gooi-by-sop” wat beteken ‘n bietjie van alles in die yskas gaan hierdie tyd van die maand soppot toe. Alexis het haar sop só gemaak: Pas maar die hoeveelheid bestanddele aan by die grootte van jou pot of andersins – die hoeveelheid gaste aan jou tafel: 

Bestanddele:
‘n Paar handevol stukkies fyn-gesnyde beesvleis;
‘n Goeie handjie of twee lekker sopbene;
Aartappels, uie, wortels en blomkool;
Enige ander groente in jou ys- of vrieskas soos aspersies, broccoli, seldery en keuker-ertjies is welkom;
‘n Pakkie Knorr sopmengsel of enige ander verdikker.

Voorbereiding:
Sny die aartappels, wortels en uie in bytgrootte happies en sny die broccoli weg van die stam. Voeg die keuker-ertjies (chickpeas) by die res van die gesnyde groente. 
Maak dan só: 
Plaas die stukkies vleis en groente in ‘n “slow cooker”. Voeg water by tot die bestanddele bedek is. Stel die pot op “hoog” vir vinniger resultate, andersins – as jy dit só verkies – stel die hitte relatief laag sodat die sop gereed is wanneer jy vanmiddag by die huis kom. Wanneer die stukkies vleis duidelik gaar en sag is, skep ‘n koppie van die amper gereed sop in ‘n koppie/beker en meng met die sopmengsel. Meng goed en gooi dan terug in die “slow cooker”. Kook op taamlik hoog vir nog sowat ‘n halfuur. Skakel “slow cooker” af, laat effe afkoel, smeer die broodjies (of wat jy ook al saam met jou sop verkies), maak seker dat die voordeur gesluit is sodat Esau nie kan binnekom nie en bederf jouself en jou gaste met ‘n bordjie egte boeresop!