20
Mon, May

Thick and/or Creamy Soups
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Mense wat die afgelope naweek met hul koue voete onder die kombersies gesit en rugby kyk het (of sommer net eenvoudig koud gekry het) het seker al gewonder hoekom ons al so "diep" dié winter in nog nie 'n lekker sopresep in ons weeklikse "Raak die 'klits' kwyt" opgedis het nie. Wel - ons wil amper sê liewers laat as nooit - minstens weet ons nou dat die winter inderdaad hier is - dus - hier is 'n sopresep wat jou beslis sal laat huis toe skryf of verlang... Jolene Fourie is 'n jong mamma wat weet hoe om 'n lekker wintersop aan te slaan. 
Biltong- en kaassop klink dalk moeilik of ingewikkeld maar dit is glad nie die geval nie en boonop sal jy ryklik met komplimente beloon word wanneer jy hierdie sop aandra tafel toe. Jou gaste sal in elk geval lankal "snuf in die neus" gekry het dat hier iets groots besig is om op die stoof te gebeur.
Jolene maak haar Biltong- en Kaassop so:

Bestanddele:

125 g Margarien
2 telepels growwe swartpeper
sout na smaak
halwe telepel neutmuskaat
halwe telepel koljander/gemengde kruie
250 ml gerasperde kaas
1 koppie koekmeelblom
1.5 l kookwater
500 ml melk
250 ml room
250 g biltongpoeier (fyngekerfde biltong)
250 g droë gekerfde biltong

Metode:

Smelt die botter en al die speserye saam - sif die meel by. Klits die melk en water bietjie-vir-bietjie by en roer gereeld om seker te maak dat daar nie klonte vorm nie. Kook vir ongeveer 10 minute.
Meng die room, kaas en biltongpoeier en gekerfde biltong by en maak seker dat al die kaas gesmelt is.
Bedien. Dié resep behoort genoeg te wees vir ses persone, behalwe wanneer jou gaste baie honger is of wanneer dit baie koud is.