20
Mon, May

Thick and/or Creamy Soups
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vir ons jongste uitgawe van “Raak die ‘klits’ kwyt” was Rustenburg Herald bevoorreg om oor die langnaweek (die pasafgelope een) by Hodge Podge Lodge Backpackers digby Olifantsnekdam in te loer vir ‘n genoeglike kuiertjie. Hier teen die hange van die Magaliesberg en die rustige gekabbel van die dam se oewer net ‘n hanetreetjie in die agtergrond, het ons in die geselskap van die Keyserfamilie rondom ‘n vuurtjie gaan sit om te sien hoe ‘n mosselsop-potjie (een van Hodge Podge Lodge se gunstelingsgeregte) voorberei word. Daarna was ons ook so gelukkig om met ‘n stukkie tuisgebakte bruinbrood en ‘n skeppie smullekker mosselsop by ‘n buitelug-tafeltjie (nog steeds by die vuur) aan te sit en ons glasies hoog te lig en te geniet.
Hodge Podge Lodge Backpackers bied basies “privaat-akkommodasie” in egte bosveld-gasvryheid en jy kan met niks of sommer net jou slaapsak daar aankom as jy wil. Die Keysers is bekend vir die geselligheid van hul vuurtjies (waar al hul etes voorberei word) en as jou magie lekker vol is, kan jy in jou houthutjie (eintlik ‘n chalet, maar so knus soos daardie spreekwoordelike huisie in die berge) gaan opkrul vir ‘n bosveldslapie om eers met sonopkoms die volgende oggend deur die voëls wakkergeroep te word. Hodge Podge Lodge is maar 12 km vanaf die Waterfall Mall en feitlik direk oorkant die Olifantsnekdam.
Nouja, kyk nou net hoe maklik dwaal ‘n mens af – geen wonder die bosveld is so berug vir sy bekoring nie… Ons wil eintlik by die Keyserfamilie se mosselsop-potjie uitkom – dit word só gemaak:

Bestanddele:
1 pakkie mossels in die skulp; 
1 bottel witwyn;
250 ml vars room;
2 vars knoffelhuisies;
‘n Klein bietjie suurlemoensap;
1 teelepel ligte kerriepoeier;
1 tikkie borrie;
1 bossie sprietuie;
Pietersielie;

Metode:
Kook die mossels met die sprietuie en witwyn vir 15 minute. Verwyder die mossels en gebruik dan slegs die wynaftreksel. Meng die room met ‘n bietjie meel en voeg by die aftreksel. Voeg dan weer die mossels by asook die suurlemoensap, knoffel, kerrie, borrie en pietersielie. Laat die mosselsop-potjie rustig prut todat die sop taamlik dikkerig is. 
Vir ‘n ekstra heerlike smaak kan ‘n wiggie (of meer) Parmesaankaas by die soppotjie gerasper word. Bedien met verkieslik bruinbrood vir ‘n ekstra happie by die sop - al te heerlik!