20
Mon, May

Ethnic
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Kwekerye is deesdae ‘n gewilde plek om ‘n Saterdagoggend of Sondag na kerk uit te hang… Dit is darem interessant om te merk hoe vinnig ‘n nuwe tendens posvat en uiteindelik ‘n splinternuwe “modegier” word. Ja, soos ons verlede week tereg in Raak die “klits” kwyt opgemerk het, “as jy wil seker maak dat jy altyd ‘n geldjie verdien en jou dienste by die publiek in aanvraag bly, is die kosbedryf glad nie ‘n slegte idee nie. “Tensy jy natuurlik soos my skoonma kook” – is nogal ‘n uitdrukking wat ‘n mens grappenderwys baie hoor. Ja, ek moet dadelik sê dat bogenoemde nie op my van toepassing is nie – niemand maak lekkerder kos as my skoonma nie… 
Elk geval – van kwekerye gepraat. Daar is haas nie ‘n kwekery wat deesdae nie met ‘n lekker informele teetuin spog nie en by sommiges sou ‘n mens dit dalk maklik as ‘n restaurant kon beskryf. Hoe dit ook al sy,dit is duidelik dat mense daarvan hou om oor naweke die rustigheid en bekoring van die natuur op te soek en soos hierdie kwaliteite deesdae skynbaar orals skaarser word, is kwekerye ‘n ogie opsie om by aan te doen. En as daar ‘n plekkie is waar jy in die skadu kan sit en ‘n lekker happie kan geniet, soveel te beter. 
Hexrivier Garden Centre in Kockstraat Rustenburg is die jongste kwekery wat pas ‘n teetuin bekend gestel het. Rustenburg Herald se “kookspan” het hom nie twee keer laat nooi om vir twee heerlike happies aan te sit nie. Gewilde etes soos tramazini en ‘n “Chicken wrap” is deesdae op almal se spyskaart, daarom is dit Ina en Saartjie Gerber se keuse...

“Sweet Chili Chicken Wrap”

Bestanddele (per porsie)
1 Wrap;
100g hoender “strips” in stukkies gesny;
100 g avokado;
40g Sweet Chili sous;
40 g sampioene;
180g aartappelskyfies.

Metode:
Braai die hoenderstukkies tot goudbruin. Diepbraai die skyfies tot gaar en ligbruin. Braai sampioene en vul die “wrap” met sampioene en chilisous. Plaas die hoenderstukkies bo-op die sampioene en sous. Plaas nou die hoenderstukkies bo-oor, dan die avokado en rol die hele pakkie amper soos ‘n pannekoek mooi op. Skep jou porsie skyfies by en siedaar – jy het ‘n heerlike ete wat enige honger sal stil.

Vir diegene wat ewe lief is vir tramazini wat deesdae baie gewild is, verskaf Hexrivier Garden Centre ook graag hierdie eenvoudige resep.

Spek, kaas en tamatie tramazini
Bestanddele (per porsie)
1 Pitabroodjie;
40 g Mozzarella-kaas;
40 g Cheddar-kaas;
4 dun tamatieskyfies;
8 repies bacon (spek);
180 g aartappelskyfies;

Metode
Sny pitabroodjie in helfte sodat jy twee ronde pitabroodjies het. Braai bacon tot gaar en strooi gerasperde kaas oor die onderste pitabroodjie. Plaas nou ‘n lagie of twee bacon oor broodjie, dan die gesnyde tamaties, gevolg deur ‘n lagie gerasperde Mozzarella-kaas heel bo.
Plaas nou die tweede helfte van die pitabroodjie bo-op om die broodjie mooi toe te maak. Smeer beide kante van die pitabroodjie ligweg met botter en plaas vir ‘n wyle in rooster. Maak intussen ook jou skyfies gaar tot ligbruin. Sny die pitabroodjie in vier ewegroot kwarte en skep die skyfies by. Alle wêreld – wat ‘n heerlike ete – dankie Saartjie en Ina Gerber van Hexrivier Garden Centre!