20
Mon, May

Platters
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Amelia Swanepoel van “Hyper Soap Rustenburg” is ‘n bekende gesig onder personeel van Rustenburg Herald en ons kom ‘n lang pad saam met haar. As ‘n vriendelike, innemende persoon met sommer baie lewensvreugde is dit vanselfsprekend dat Amelia lief is vir die mense om haar – sy is die tweede oudste van vier susters en sy en haar sibbe en haar dogter (en natuurlik ma/ouma) kuier graag gereeld saam. Natuurlik ontaard die kuier dikwels in ‘n kosmaak-gedoente en dit kan die klompie goed doen. Ons het onlangs al te lekker by die susters – Madelene Nel, Amelia (Swanepoel) en haar dogter Anne-Mari van der Westhuizen en Nicolene de Kock in die kombuis gekuier (en sommer lekker geëet terwyl die vier vir ons ‘n paar van hul gunsteling-geregte voorberei het.

Die jongste suster (Lollos) Lou Mari Pretorius is so gelukkig om ‘n inwoner van Danabaai te wees maar was in die gees saam met ons aan tafel en het selfs vir ons ‘n bydrae in die vorm van haar pantoffelbroodjieresep gestuur wat sus Madelene saam met haar eie wonderlike ‘Italiaanse” warm voorgereg vir ons gebak het. Madelene noem hierdie ‘n voorgereg maar saam met die pantoffelbroodjie (trouens enige broodjie) kan dit net sowel jou hoofgereg wees. 

Tamatie, Feta en olyf-voorgereg

Bestanddele:
500 g kersietamaties
2 wieletjies Fetakaas
‘n Pakkie swart, pitlose olywe
1 teelepel gedroogte tiemie
100 g vars basiliekruidblare
Olyfolie na smaak
(Alle mates kan aangepas word volgens jou smaak. 

Metode:
Sny baie (maar nie noodwendig almal nie) van die kersietamaties in kleiner stukkies. So ook met die wieletjies Fetakaas en basiliekruidblare. 
Plaas al die bestanddele in ‘n mengbak, gooi olyfolie (na smaak) bo-oor en meng baie goed. 
Plaas daarna in oondbank en bak teen 180°C in oond tot tamaties sag is.  
Bedien saam met pantoffelbrood en jy sal net soos ons vind dat dit ‘n heerlike kombinasie is. 

Pantoffelbrood 
(lewer 4 brode)

Bestanddele:
600 g (5 koppies) witbroodmeel
37.5 ml (2½ eetlepels) suiker
10 ml (2 teelepels) sout
10 g (1 pakkie) kitsgis
550 ml water

Metode:
Meng al die betanddele in ‘n menger met die deeghoek (die menger se “deeglem”) tot die mengsel van die kante wegtrek. Bedek die deeg en laat rys tot dubbel die grootte. 
Voorverhit die oond tot 220 °C. Keer die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak en knie liggies af. Sny genoeg stukke (stroke) van die deeg af vir vier brode. 
Plaas op gesmeerde bakplate en bak vir nagenoeg 25 minute tot gaar en ligbruin. 
Haal uit, laat effens afkoel en sny in klein snytjies – heerlik saam met Madelene se voorgereg!