21
Sat, Dec

Platters
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In die Indiërgemeenskap is “half moons” ‘n gunsteling-warmhappie en as’t ware die kleinboetie van die immergewilde samoosa. Mariana Paul –
vir die afgelope drie jaar al ‘n bekende gesig in ons kookrubriek, maak vandeesweek vir ons haar eie weergawe van dié lekkerny wat sy baie gepas “moon pies” noem. 

Sjoe, hierdie is nou ‘n heerlike smulhappie wat jy as ‘n ligte maaltyd of sommer net ‘n versnapering kan voorsit wanneer die eetgoed van die mense op die tv net té lekker begin lyk.

Bestanddele:
2½ k hoenderfillets in blokkies gesny
½ t komyn
1 t sout
¼ k suurlemoensap
1 t suurlemoenpeper

Groen rissies na smaak
1 t fyngekapte knoffel
2 t Mayonnaise
2 t botter
2 eetlepel suikermielies
1¼ k melk
2 eetlepels Maizena

Bestanddele vir deeg:
2 k water
2 eetlepels botter
¼ t sout
2 k koekmeel
2 eiers geklits
‘n Handjievol broodkrummels

Metode vir deeg: 
Plaas water, botter en sout oor lae hitte in pot tot dit kook. Voeg meel by en roer baie vinnig om ‘n bal te vorm. Haal deeg uit en knie tot sagte beslag.
 
Hoendermengsel vir “Moon Pies”
Kook hoender, komyn, sout, suurlemoensap, suurlemoenpeper, rissie, knoffel, Mayonnaise, botter en suikermielies saam tot droog en sag op lae hitte. 
Meng melk met Maizena en voeg by hoendermengsel en roer tot verdik. (Die mengsel moet afkoel).
Metode:
Vul die “pasteitjies” met die mengsel. Wenk: Dit is makliker om te vul en mooi toe te druk, wanneer die deeg nog ietwat warm is. Rol die deeg dun uit op ‘n meelbestrooide oppervlak. Druk sirkels uit van nagenoeg 8 cm in deursnee. Skep teelepelsvol van die hoendervulsel op  die helfte van die deegsirkel, lig op en druk die kante saam om te seël en om ‘n halfmaan te vorm. 
Doop in geklitste eier en rol in broodkrummels. Dit kan nou gevries word of kan reguit stoof toe, waar jy dit in ‘n groterige pan so vier op ‘n slag tot mooi bruin braai. Bedien met lekker blatjang of enige souserigheid (condiments) waarvan die gesin hou. Bon appetite!