20
Mon, May

Platters
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ons bevind ons alweer aan die begin van nog ‘n nuwe jaar en daar moet baie vroue en ma’s wees wat na ‘n bedrywige feesseisoen wonder wat hulle nog op die gesin se spyskaart kan insluit. Dit is maar ‘n stryd om seker te maak dat daar altyd ‘n lekker happie in die huis is (veral oor naweke) of watter heerlike maar gesonde eetgoed die kinders interessant genoeg sal vind om aan te peusel wanneer hulle langtand begin eet aan die “gewone” dinge.  Rustenburg spog nou al geruime tyd met die keurige gebak van Nostalgie Tuisgebak waar Marinda van Wyk aan die stuur is en geesdriftig deur haar ma – Marie Ludick - bygestaan word. Ons het vandeesweek by Nostalgie gaan kers opsteek waar Marinda vir ons gewys het hoe om die lekkerste-lekker gesondheidsmuffins en absolute fynproewer- kersie- en neutbeskuit te maak. Nie noodwendig goedkoop nie maar boeta, jy sal jou lippe weer en weer aflek. 

Kersie- en neutbeskuit

Bestanddele:

2 Kg Bruismeel
20 ml Bakpoeier
20 ml Sout
4 Eiers
4 Koppies suiker
1 Kg Botter, gesmelt
1 Liter Karringmelk
Glanskersies na smaak
Neute fyngekap

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C. Meng al die droë bestanddele saam. Druk vas in ongeveer 3 oondpanne. Bak vir 1 uur tot gaar. Sny in beskuite sodra dit goed afgekoel het. Laat uitdroog – stel oond op 90°C, laat oonddeur half oop sodat vog nie opbou nie en droog vir nagenoeg 6 ure. Lekkerste beskuit ooit. 
Nouja, ons weet dat ons dames in vandag se tye ‘n bedrywige lewe het. As jou program eenvoudig té besig is, loer gerus by Nostalgie in Landdrosstraat 4 in. Daar is ook talle ander groot gunstelinge soos biltongquiche (uiters gewild), malvalekkertert, alle soorte beskuit, vleispasteitjies en vir die soettande ‘n Bar One-koek om jouself in te verloor! 

Gesondheidsmuffins

Bestanddele: 
(4 tot 5 dosyn muffins)

6 x 250 ml Semels
500 ml Kookwater
250 ml Botter/margarien, gesmelt
750 ml Suiker
4 Eiers
1 Liter Karringmelk
25 ml Koeksoda
625 ml Koekmeelblom
625 ml Volkoringmeel
10 ml Sout
1 Koppie rosyntjies, neute, klapper, cranberries (rooibosbessie) en sade. 

Metode:

Voorverhit die oond tot 220°C. Spuit jou oondpanne met Spray & Cook. Meng die semels, kookwater en margarien saam. Voeg die suiker, eiers en karringmelk by. Meng koeksoda met ooblywende karringmelk en voeg by die semelmengsel. Voeg die koekmeel, koringmeel en sout by semels. Voeg na hartelus neute of rosyne, cranberries of sade en selfs klapper by. Onthou, die deeg is lekker slap. Vul jou muffinpannetjies met die beslag – niks meer as so driekwart vol nie. Bak vir 15 tot 20 minute tot gaar. Laat effens afkoel en haal uit.