20
Mon, May

Platters
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die kuns om huisvrou (tuisteskepper) te wees word deesdae by die dag moeiliker. Die meeste mense kla sommer maklik omdat die dinge by die werk “elke dag dieselfde ding” is – wees dankbaar mnr/mev – vir ‘n huisvrou wat voortdurend moet besin oor die gesin of kinders se maaltye bestaan daar nie so ‘n luuksheid nie. Ons ma’s moet deurentyd seker maak dat die gesin se etes interessant bly, dat dit smaaklik is, nie te duur is nie en laastens dat dit supergesond is – nie altyd ‘n maklike uitdaging nie nê? Mariana Paul van Rustenburg is ‘n bekende persoonlikheid in plaaslike kosmaakkringe. Sy’t egter sommer baie hooi op haar vurk en hoe sy vir alles tyd kry, wil ‘n mens dadelik laat kopkrap.
Mariana is nie net ‘n gereelde gas in Rustenburg Herald se weeklikse kosrmaakrubriek nie, sy is ook gaskunstenaar op 7de Laan waar sy die rol van Ubettina Wethu vertolk. Om kop bo water te hou, moet Mariana ‘n planmaker wees en planne het sy baie in haar kas. Vandeesweek – heerlike mini-herderspasteitjies wat sy op haar eie unieke manier voorberei. Kry die bestanddele gereed – jy is dalk nog betyds vir middagete!

Kapokaartappels

Bestanddele:
3 aartappels (groot)
½ koppie water
2 eetlepels Cremora
Sout en peper

Metode:
Skil aartappels – sny in kwarte. Kook in soutwater tot sag, (Moet nie water weggooi nie). Druk aartappels fyn, meng die Cremora in bietjie water (wat jy hierbo gehou het) en gooi by aartappels, meng en garneer na smaak.

Broodkoppies (sirkels)

Bestanddele:
12 snye witbrood
1 Eetlepel botter gesmelt

Metode:
Voorverhit oond teen 180°C. Smeer muffinpannetjie met plek vir 12 pasteitjies. Sny sirkels groot genoeg om in holtes van muffinpannetjie te pas. Smeer pan en plaas broodsirkels (koppies) daarin. Smeer met botter en bak vir 5 tot 10 minute tot gerooster en haal weer uit om skeppie beslag te kry voor dit teruggaan oond toe.

Maalvleisvulsel

Bestanddele:
½ eetlepel olie
½ ui fyngekap
1 knoffelhuisie – fyngedruk
300g maalvleis (bees)
1 pakkie (50 g) tamatiepasta
½ koppie water
1 koppie gemengde groente (mielies, wortels en ertjies)
2 koppies gerasperde kaas
Sout en peper na smaak


Metode:
Verhit olie op mediumhitte. Gooi uie by en sauté saam vir 3 min. Gooi knoffel by en braai verdere 3 min. Stel hitte warmer en voeg maalvleis by - braai 3 tot 5 min. Roer tamatiepasta en water by en laat prut vir 15 minute. Voeg gemengde groente by en prut vir nog 10 min.
Wenk: Gooi ½ koppie water by as mengsel te droog is. Garneer met sout en peper. Skep kwartkoppie van die mengsel in elke broodkoppie in muffinpannetjie. Sprinkel kaas oor die vulsel. Skep kapokaartappels of druk uit met koekiedrukker bo-op die kaas en maalvleis. Bak tot mooi goudbruin, laat effens afkoel en bedien met groenslaai- baie lekker!