20
Mon, May

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

As jy regtig lekker eet in Suid-Afrika – moet jy in die plattelandse landskap by van ons voorslag-boerevroue aansit – dié mense wat so naby aan die grond leef en werk, het darem maar  ‘n slag met kos en lekkernye wat hulle nie maklik nagedoen kan word nie. Maar ja, ons volgende sin lees natuurlik soos ‘n “boek” – daar is altyd uitsonderings. In ons maandelikse AgriPulse-kook (of bak?) vandeesweek, kuier ons in die kombuis van ‘n bekende paartjie van Noordwes – Mariska en Jaco Kruger – onderskeidelik ‘n apteker/sakevrou en ‘n sakeman wat nie veel bekendstelling in die plaaslike motorbedryf nodig het nie.  Dié twee het inderdaad lywe wat dit kan bekostig om uitspattig onder die soetgoed te baljaar en maak vir ons ‘n watertandlekker pannekoektert. Pannekoek het ons al in verskeie gedaantes geëet, maar nêrens nog so verleidelik lekker soos hier nie. Boonop is dit nie ‘n lewenstaak nie en as manlief so gaaf is om jou met die eetgoedjies te help, is die res sommer maklik.

Goed, goed, ons weet dat daar niemand is wat nie kan pannekoek bak nie, maar ons gee hier graag die resep vir flatervrye pannekoek synde dié gewilde lekkerny so ‘n belangrike bestanddeel van ons pannekoektert is.

Bestanddele:
• 4 Koppies meel
• 4 Eiers
• 5 Koppies water
• ½ Teelepel sout
• 4 Teelepels bakpoeier
• ½ Koppie olie
• Meng alles baie goed saam en bak.  Die geheim is om die bakpoeier laaste by te gooi en baie goed te meng.

Vulsel bestanddele:
• 250 g Cremora of enige ander verromer soos Ellis Brown
• 125 ml Koue water 
• 1 Blikkie kondensmelk (397g)
• 125 ml Suurlemoensap 
(vars of gebottel)
• 1 Blikkie ingelegde aarbeie
• Vars vrugte van jou keuse
(soos kiwi, vye en braambessies)

Metode:
Klop die Cremora/verromer en die koue water saam totdat alle klonte heeltemal opgelos is.  Aan die begin lyk dit maar baie klonterig en krummelrig maar hou maar net aan klop totdat tekstuur glad en romerig is. 
Voeg nou kondensmelk by en meng weer baie goed. 
Voeg die suurlemoensap bietjie-vir-bietjie by en klop goed na elke bietjie sap wat jy byvoeg. 
Jy sal merk dat die vulsel effens stywer en dikker word namate jy meer suurlemoensap byvoeg. 
“Bou” jou tert
Neem ‘n standaard-koekpannetjie met ‘n bodem en verwyderbare kante en lê ‘n pannekoek in sy natuurlike vorm (rond) op die bodem uit. 
“Hang nou ‘n paar pannekoeke so helfte-helfte 
(soos wasgoed oor ‘n wasgoedlyn) oor die kante van die koekpannetjie sodat die pannetjie se sykante heeltemal met pannekoeke bedek is. 
Laat die helftes wat oor die buitekant van die panne hang, net so – jy sal dit later invou. 
Skep nou ‘n paar lepels van die vulsel bo-op die pannekoek op die bodem van die pannetjie. 
Bedek met ‘n lagie gesnyde aarbeie, dan weer een ronde pannekoek, dan weer vulsel en as jy wil afwissel, dalk ander gesnyde vrugte soos druiwe of wat ook al – andersins maar net nog aarbeie. 
Nou ‘n laaste “ronde” pannekoek in die middel op die boonste lagie van die tert voordat jy die buitekante wat nog steeds hang, mooi netjies oplig, effens vorm soos dit jou pas en na die binnekant (kern) van die tert invou om dit mooi af te rond.
 Al wat nou oorbly is om die bokant van die tert mooi keurig met stukkies gesnyde vars vye, braambessies (blackberries), framboos (raspberries) en kiwivrug te versier. 
Skep ‘n paar lepels stroop van die ingelegte aarbeie wat jy as vulsel in die tert gebruik het, oor die boonste klompie vrugte en plaas vir minstens ‘n uur of oornag in yskas. 
Rond af met ‘n spuitjie of twee geblikte room 
(Whipped Cream) wanneer jy die tert bedien. 
Soos ons altyd sê wanneer ons iets dekadent-lekker raakloop – moet maar nie te veel mense nooi nie!