20
Mon, May

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die nuwe jaar is nog skaars behoorlik op dreef of dit is weer Paasnaweek – ‘n naweek wat dikwels met gesellige famieliebyeenkomste gepaard gaan. Vir ander is dit natuurlik die ideale geleentheid vir ‘n vinnige wegbreek see toe omdat dié naweek elke jaar gerieflik midde in die eerste skoolvakansie van die nuwe jaar val. Min mense sal aanstoot neem as ons meen dat die Paasnaweek se spyskaart dikwels maar ietwat van ‘n oordadige storie is – daarom dat hierdie “gesondheidsnagereg” smulpape ‘n bietjie minder sal laat skuldig voel. Nicolene de Kock se roomkaastert in vandeesweek se kookrubriek is die laaste bydrae in ‘n mini-reeks van drie aflewerings waarin vier susters en vyf vroue (klink dit nie soos die bekende twee pa’s en twee seuns-raaisel nie?) vir ons gewys het hoe hulle graag in die kombuis kuier.Terloops – ons vyfde vrou is Anne-Marie van der Westhuizen, dogter van Amelia Swanepoel – ons koördineerder van die afgelope paar weke se kook- en baksessies. 

Bestanddele

Kors :
1x pakkie glutenvrye koekies
3 el botter

Vulsel:
500ml roomkaas
1 blikkie fyngemaakte pynappels 
110 g grenadellamoes
250 ml room
1 pakkie suurlemoenjellie
‘n Halwe blikkie kondensmelk (ongeveer 200 g)

Metode

Kors:
Maak die glutenvrye koekies in ‘n voedselverwerker fyn. Meng met die botter in tot alles goed gemeng is. Druk dié vulsel mooi netjies op die bodem van ‘n tertbak uit en plaas in die yskas. 

Vulsel:
Maak die suurlemoenjellie met ‘n koppie kookwater aan - maak seker die jelliepoeier is heeltemal opgelos en plaas in yskas om af te koel. 
Dreineer die pynappel en maak seker alle vloeistof is gedreineer en plaas in yskas. Klop die room styf en sit in die yskas. Meng die roomkaas in ‘n mengbak met ‘n elektriese handklitser tot glad. Meng nou die kondensmelk by. Vou die room bietjie-vir-bietjie by en meng met ‘n spatella tot goed gemeng. Meng nou die afgekoelde jellie by. Skep die vulsel in die tertbak en laat vir ses ure of oornag in die yskas. Plaas ‘n paar stukkies suurlemoenskil, ‘n paar stukkies fyn pynappel of grenadedella bo-op die tert  om dit mooi netjies af te rond. Geniet met n lekker koppie koffie of rooibostee met ‘n suurlemoenskyfie.