20
Mon, May

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In hierdie kosmaakrubriek waarna ons dikwels skertsend verwys as die rubriek waarin ons “die klits kwyt raak” het ons al ewe dikwels gesê dat mense nou maar eenmaal daarvan hou om te sien wat in ander mense se kombuise aangaan. Vandaar die gewildheid van kosmaakprogramme op tv of kos-en-happie-artikels in al wat tydskrif of publikasie is. 
Hierdie week, soos beloof, is die tweede aflewering van ons minireeks met Rustenburg se eie “Driesusters” Anita du Plooy, Leana Verster en Linda Horn wat onlangs ook op ons voorblad gepronk het. In hierdie tweede aflewering maak Leana en Anita vir ons twee happies waaraan ware soettande vir jare al te graag smul – vlaskywe en Sjokolode-Cremoratert. 

Sjokolade-Cremoratert

Bestanddele:
250 g Cremorapoeier
1 blik kondensmelk
½ k suurlemoensap
30 ml kakao
¼ k kookwater
1 tl Vanielje-ekstrak
½ pak sjokolade-en-ment-Tennisbeskuitjies

Metode:
Meng Cremorapoeier, suurlemoensap en kondensmelk. Meng die kakao met die kookwater en Vanielje. Laat afkoel en meng dan die Cremora-mengsel by. 
Pak Tennisbeskuitjies onder in ‘n tertbak, skep die mengsel oor en maak dit glad bo-op. 
Verkoel in die yskas vir 2 tot 3 ure of oornag. 

Maklike Vlakskywe

Bestanddele:
1 pakkie (200 g) Cream Crackers
1liter melk
250 ml suiker
60 ml botter of margarien
120 ml koekmeelblom
100 ml mielieblom
10 ml vlapoeier
2 ml sout
100 ml koue water
5 ml Vanielje-ekstrak
500 ml versiersuiker, gesif
40 ml kookwater
3 eiers, geskei

Metode:
Smeer ‘n vlak glasbak van 35 x 25 x 5 cm. Pak 15 beskuitjies in rye op die bodem van die bak. Die beskuitjies moet almal in dieselfde rigting lê. Verhit die melk in ‘n groot kastrol tot kookpunt. Voeg die suiker en botter by en roer tot gesmelt. 
Haal van die stoof af. Meng die koekmeel, mielieblom, vlapoeier, sout en koue water. Voeg eiergele by en klits goed. Klits van die melkmengsel geleidelik by die vlamengsel. Gooi terug in die kastrol by die res van die melk. Roer aanhoudend oor lae hitte en kook vir 5 min tot dik. 
Haal van die stoof af en roer Vanielje by. 
Klits eierwitte totdat sagte punte vorm en vou liggies met ‘n metaallepel in die vlamengsel in. 
Gooi warm vla oor die beskuitjies en pak weer ‘n ry beskuitjies oor die vla. Let op dat die beskuitjies in lyn lê met die onderste laag. Laat vlavulsel afkoel en plaas dan in die yskas om koud te word. 
Meng versiersuiker en kookwater tot ‘n smeerbare versiersel en smeer bo-oor die vlaskywe. Hou in yskas tot benodig. 
Sny in skywe en bedien.