20
Mon, May

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ai, ‘n lekker koek of kouerige tert in hierdie onuithoudbare temperature is darem maar ‘n lekker ding so saam met ‘n koppie tee of ‘n yskoue koeldrank. Veral met die rugby wat nou binne ‘n week of twee sy hoogtepunt bereik en natuurlik het Suid-Afrikaners so ‘n bietjie ekstra suiker nodig om te help met die adrenalien op dae wanneer die Bokke in aksie is. Maar gepraat van die koek of tert – nie almal is noodwendig baie bedrewe bakkers nie, en hoe nou as die tert vir my te ingewikkeld is? Nouja meneer of mevrou (hoewel die kanse beter is dat ons hier met mejuffrouens praat), dan het ons net die resep vir jou. ‘n Verskeidenheid lekker, maklike maar geurige terte waarvan jy sommer so drie, of vier in ‘n enkele sessie kan maak sodat jy nie nodig sal hê om oor rugbynaweke in die kombuis hoef te woeker nie.

Retha Ferreira, ‘n bekende gesig in Rustenburg, noem hierdie sommer die Luihuisvrou-tert en dit is so maklik soos val uit ‘n boom uit. Goeie nuus is dat hierdie tert in vier verskillende variasies gemaak kan word – verder is al vier basies dieselfde behalwe vir die “onderdele”. Retha maak hierdie terte en talle ander heerlike eetgoed onder die vaandel van “Sweet Creations” en doen maandeinde-naweke fluks sake by Rustenburg se twee informele markte. Ons begin met die “basis” van die tert en gee daarna die eenvoudige aanwysings vir die vier variasies. 

Bestanddele:

1 Pak Tennisbeskuitjies
1x 250 g Fino Whip
1 x 250 ml melk
1 Blikkie kondensmelk
¼ Koppie suurlemoensap

Metode:

Klits melk en Fino Whip tot dit begin dik word. Meng kondensmelk en suurlemoensap afsonderlik in ‘n bakkie tot dikkerig. Pak die tennisbeskuitjies-kors onder in die tertbakkie. Meng nou die kondensmelk en suurlemoenmengsel by Fino Whip-mengsel tot mooi gemeng en dik. Kies nou een of meer van die volgende smaak- en geurvariasies: 

# Granadilla-pulp en/of ‘n titseltjie Granadilla-ekstrak;
# Malvalekkers – verkieslik mini-grootte; 
# Aarbeikonfyt/ingelegde aarbeie of ‘n titseltjie aarbei-ekstrak;
# Bloubessiekonfyt of ‘n titseltjie Bloubessie-ekstrak. 

Enige van hierdie variasies is ‘n goeie begin vir hierdie naweek se rugby wanneer die Bokke een van die moeilikste hekkies in vanjaar se toernooi sal moet oorsteek wanneer hulle teen die gasheerland (Frankryk) te staan kom. Volgende week gee ons vir jou die resep vir nog ‘n tert met ‘n klein verskilletjie (ook van Retha) wat in twee variasies gemaak kan word en wat uitstekend sal werk vir die kwarteindstryde of dalk semifinale. 
As jy dalk voel om liefs vir Retha te vra om vir jou te bak – skakel haar gerus op 078 529 4177.