20
Mon, May

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Rustenburgers wat die afgelope bykans twee jaar al gereeld uithang by Rustenburg se twee gereelde markte – die Timbati Veldmark in Cashan 4 en die Rustenburgse Boeremark by die Rustenburgse skougronde – weet teen hierdie tyd wie Retha Ferreira van Sweet Creations is. Retha is die voorslagvrou wie se tafels by bogenoemde twee markte gewoonlik kreun met heerlike soetgoed en tradisionele lekkernye wat die mond laat water en ‘n mens instinktief in die agtersak na die beursie laat vroetel. 
Die lekkergoedgogga (as ons dit so kan noem?) het Retha gebyt toe sy in ‘n stadium onder leiding van mev Alet Meyer van Café Communio by die NG Kerk Proteapark in die kombuis gewoeker het. Sedertdien het Retha Sweet Creations op die been gebring.

Daar is kwalik ‘n beter beskrywing van haar handewerk as wat dié naam aandui. 
Retha het verlede week sommer in ‘n japtrap vir ons ‘n tert vir vier seisoene gemaak – in beginsel basies almal dieselfde maar met vier variasies na gelang van die bui waarin jy is of wie die mense aan jou tafel gaan wees. Vandeesweek is nog twee maklike, vinnige terte op die spyskaart met enkele ander bestanddele en nog ‘n “basisresep” wat jy in twee variasies kan voorsit. Retha het verlede week haar tert ‘n Lui huisvrou-tert genoem – ons stem nie saam nie omdat dié naam nie reg laat geskied aan haar vaardighede in die kombuis nie. So – die naam wat hierdie “poeding” vir ons die beste beskryf is Caramel Treat-tert met ‘n cappuccino- en koffiesmaak en dan nog ‘n variasie met Peppermint Crisp waarmee jy mense spreekwoordelik onder ‘n wip kan vang. 

Bestanddele:

1 Pakkie tennisbeskuitjies
250 ml Fino Whip
250 ml Melk
1 Blikkie Caramel Treat (net soos kondensmelk maar net die karamel-weergawe)

Metode:

Klits die Fino Whip en melk tot taamlik dik. Voeg Caramel Treat by en meng deeglik en jou beslag is gereed. Breek/sny en pak nou die Tennisbeskuitjies mooi netjies op die bodem van jou tertpannetjie uit. Na gelang van die geur/smaak waarin jy die tert wil hê, voeg ‘n ½ teelepel Cappucino-ekstrak en 1 teelepel koffiepoeier by of alternatiewelik so twee eetlepels gerasperde Peppermint Crisp-sjokolade (‘n rapsie meer sal nie skade doen nie) en slegs ‘n titseltjie Peppermint-ekstrak indien jy die geur so ‘n bietjie sterker verkies. 
Meng gegeurde beslag goed saam en skep uit in jou tertpannetjie. Laat afkoel en set en dan kan jy die ketel aanskakel. 
Maar van lui huisvrou gepraat - as jy oor naweke of sommer in die week al te pootuit voel vir ‘n tert-makery, skakel vir Retha by 078 529 4177 en reël om sommer by haar af te haal.