21
Sat, Dec

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Kyk, as ‘n mens ‘n holte in jou kiestand het vir die lekkerste beskuit, dan is Suid-Afrika, en veral die Suid-Afrikaanse platteland seker die lekkerste plek om te bly. Hier onder die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap, (met verskoning aan ons Engelse “pioniers” ook vir hul wonderlike bydraes) het regte boerbeskuit onvermydelik in ‘n klomp variasies ontaard van loshande die lekkerste happies wat jy saam met jou oggendkoffie kan geniet. Karringmelkbeskuit, boerbeskuit, muesli-beskuit, kondensmelkbeskuit, three-seed beskuit, gesondheidsbeskuit, grondboontjiebotterbeskuit (het jy al van dié een gehoor?) is dalk nie eers die helfte van al die variasies wat deesdae in huise en op winkelrakke beskikbaar is nie.

In Rustenburg Noordwes het Marinda van Wyk van Nostalgie Tuisgebak die afgelope klompie jaar ‘n welverdiende reputasie verwerf as ‘n plekkie waar jy graag enige dag van die week, maar veral voor ‘n  naweek aandoen. En as dit nou nie so ‘n onvergeeflike sonde sou wees nie – waarvan jy verkieslik vir nie te veel mense vertel nie. 
Nouja, genoeg gepraat en van hier af laat ons Marinda se veelbesonge kersie- en neutbeskuit die praatwerk doen – die ideale kersgeskenk vir daardie lang, luilekker-somersdae waarin dit hopelik amper elke dag reën – dit is ons kersfeeswens vir jou! En onthou – as jy nie ‘n beskuitbakker is of wil wees nie – Nostalgie Tuisgebak se nommer is 082 455 5225! 

Bestanddele:
• 2.5 kg bruismeel

• 4 koppies suiker
• 4 teelepels bakpoeier, 4 teelepels sout
• Sowat 3 koppies makadamia-neute fyngekap
• Sowat 3 koppies rooi glaskersies fyngekap
• 1 liter karringmelk
• 2 x 500 g Margarien, gesmelt
• 4 eiers

Metode:
Meng alles deeglik saam. Druk vas in 3 oondplanne. Bak in voorverhitte oond teen 180 °C tot ligbruin. Laat goed afkoel. Sny in gewenste grootte beskuit-porsies. Laat vir ses ure teen 90 °C in oond uitdroog. Laaste stukkie raad: Gaan koop vir jou ‘n goeie blik/houertjie/botteltjie uitstekende koffie en as jy tee verkies – ja wel, dan moet ons seker maar erken dat die Engelse, naas rooibostee, die beste weergawes het. AgriPulse wens al ons lesers ‘n geseënde kersfees, ‘n heerlike uitrus-vakansie en ‘n voorspoedige nuwejaar toe!