31
Fri, Jan

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In die hartjie van Kroondal is daar ‘n juweel van ‘n koffiewinkel – Lente Vlooitjie – wat die gevoel van nostalgie en Ouma se kombuis weer warm in die hart laat klop. Retha Nortjé is sedert 2023 agter die stuur van sake, met haar regterhand, Lydia Kwele, wat ‘n besondere “huis”-gevoel by kliënte aanwakker. Retha, wat eintlik ‘n rekenmeester van beroep is, sê Lente Vlooitjie het vir haar ‘n kleinnood geword wat haar help om haar daaglikse roetine te breek en kop skoon te maak. “Lente Vlooitjie, wat na die oorspronklike eienaar vernoem is, het ‘n nostalgiese uniekheid. Ons kompeteer glad nie met ander koffiewinkels nie, want ons is heeltemal uniek. Die stilte van die omgewing is eenvoudig wonderlik.” Retha en Lydia het hierdie week reggestaan in die kombuis om aan Rustenburg Herald se lersers hul resep vir dadelballetjies te demonstreer - en benewens die feit dat dit so eenvoudig is dat selfs jong kinders dit sal kan maak (pasop net vir die warm stoof!) is dit boonop lippe-aflek lekker! Dié dadelballetjies is nie té soet nie, maar net die perfekte soeterige happie om deur die dag (of aand) aan te smul. Ons waarsku jou – dis verslawend…

Bestanddele:

250g dadels
1 koppie suiker
200g botter
3 eetlepels kookwater
1 pakkie Marie-beskuitjies (verkrummel)
Klapper – soos benodig

Metode:

1. Verwyder die pitte van die dadels en sny die dadels in kleiner stukke.
2. Verkrummel die Marie-beskuitings in growwe stukke.
3. Kook alles saam (behalwe Marie-beskuitjiies), op die stoof vir sowat 10 minute – totdat die mengsel taaierig voorkom. Voeg kookwater by, soos nodig.
4. Roer beskuitjies in en meng goed.
5. Laat die mengsel effens afkoel, maak balletjies en rol in klapper.
6. Bedien en geniet as dit afgekoel is.