‘Brandy snaps’ is ‘n gewilde peuselhappie of nagereg in die Verenigde Koninkryk, Ierland, Australië en Nieu-Seeland, soortgelyk aan die Italiaanse cannoli. Hulle is dikwels buisvormige, bros, soet, gebakte omhulsels wat tipies 10 sentimeter lank en 2 sentimeter in deursnee is. Brandy snaps word gewoonlik bedien gevul met geklopte room. Charlize van der Linden van Stellalander het ‘n besoek gebring aan huis van Peti Pretorius, wat in Vryburg woon, vir ‘n voorsmakie van hierdie gewilde versnapering wat tydens Paasfees geniet kan word. Peti is die eienaar van Thyme and Again sedert 2020 wat spyseniering doen vir funksies soos troues, doopgeleenthede, kombuistee’s, ooievaarstee’s, verjaarsdae en vele meer. Peti spesialiseer nie net in spyseniering nie, maar het ‘n hand vir blommerrangskikkings. Peti is ook die bestuurder van Villa Brocant Gastehuis in Vryburg. Dié ‘Brandy Snaps’ wat Peti die keer vir ons maak is ‘n alkoholvrye weergawe.
‘Brandy Snaps’
‘N “PLAASBRAK” MET ‘N SUIKERSOET-BLAF…
Diegene van ons wat Joubert Reed (Snr) - (voorheen van Rustenburg) ken sal dadelik kopskuddend beaam dat hy maar altyd vir 'n sake-idee op die uitkyk is. Dieselfde gene is natuurlik in klein Joubert (Jnr - agt jaar oud) se bloed. Met pa en ma se hulp het klein Joubert so 'n maand of wat gelede begin om 'n lekkergoed-"nywerheid" met werklik groot potensiaal op die been te bring. Maar 'n aanvoeling vir die sakewêreld is nie al wat Joubert Snr en Jnr in gemeen het nie. Net soos 'n kop vir besigheid, is die liefde vir die grond polsend in hul are en almal sal saamstem dat "Plaasbrak" 'n unieke naam vir 'n lekkergoed-besigheid is. Maar kom ons wed jou, as jy eenmaal jou tande in daardie heerlik-sagte fudge geslaan het, kan jy seker wees dat jy die naam Plaasbrak vir lank sal onthou.
Die motivering agter Plaasbrak-lekkers was om klein Joubert te leer dat geld nie uit die lug val nie en dat 'n mens hard daarvoor moet werk. Joubert doen soos "alle" seuntjies maar los takies en werkies in en om die huis om 'n sakgeldjie te verdien, maar het op 'n dag verder as sakgeld begin dink en toe aan pa en ma begin torring oor hoe 'n besigheid "werk"... Hoewel daar allerlei "ups en downs" en stampe en stote was, is die res geskiedenis soos ons sê en Plaasbrak spog nou al met 'n grimmige knor as ons in die oortreffende trap kan praat...
Een van die grootste suksesse van Plaasbrak, is klein Joubert se fudge wat hy in nie minder nie as vier verskillende variëteite aanbied. Ons het met die proe-slag vir die Reeds gesê dié fudge is van die lekkerste wat ons al ooit geproe het, en nee, ons bak nie hier mooi broodjies nie - ons bedoel dit met alle erns... Hoewel klein Joubert darem net te veel van 'n besigheidstrateeg is om sy sakegeheime te verklap, deel hy darem sy resep vir 'n baie lekker fudge met ons - komaan bederf die kinders en die soettande hierdie naweek by die huis (ja, en hier is ons alweer by die soetgoed).