20
Mon, May

Nou ja, vir die Italianers hoef jy niks van pasta of ‘n “pastatjie” te vertel nie – nooit nie! Maar natuurlik van oordadigheid ook nie..? 
Hier in Rustenburg waar ons nou gevaarlik naby aan die einde van Januarie trek, moet almal seker (hopelik ander ook?) na regte randrekker-geregte op soek wees waarmee die gesin aan die gang gehou kan word totdat die spreekwoordelike maandeinde-spook darem weer loop. (Kollega Christelle sê die maand is so lank – verlede jaar hierdie tyd was dit al Maart!)
Maar terug na die pastatjie – die Italianers het ‘n pastatjie wat hulle “Pastitsio” noem. Om dit behoorlik te doen is ‘n taamlike mondvol – maar hier einde Januarie maak ons Heleen Verster se vinnige weergawe van Pastitsio – lekker vinnig, nie duur nie en uiters “effektief”! Boonop so maklik soos val uit ‘n boom uit…

Read more …HELEEN SE VINNIGE “PASTITSIO”

‘n Fout. ‘n Groot fout; dis wat dit is om ‘n sjef te vra om ‘n gereg voor te berei met bestanddele wat almal in hul koskaste het. Want wat ‘n sjef in sy kombuis se rakke het, en wat die gewone sterfling in sy kaste het is twee baie verskillende goed. Maar dié week het sjef Pieter Germishuys sekerlik ‘n wonder verrig! Die gereg wat hy saam met sy Afloskombuis-trawante – Tiaan Visser en Marnus van Dyk - geskep het, kom baie naby aan maklik genoeg dat meeste mense dit sal kan maak.Dié heerlike gereg het Pieter, Tiaan en Marnus met ‘n picante voorgereg, bestaande uit papierdun salami, radys, wortel en geroosterde mango, asook ‘n kraakvars mengelslaai bedien. Hier is die resep vir dié kêrels wat kan kook se Tagliatelle met ‘n romerige knoffel, sampioen, Peppadew en aspersiesous, afgerond met bros uie en parmesaankaas.

Read more …DIÉ KÊRELS KOOK VIR TV, EN VIR ONS

Ja kyk, die winter kom vinnig nader en dit is sekerlik hoog tyd dat Rustenburgers hulself ‘n bietjie instudeer soos die mense sê in die maak van eg Italiaanse of sommer net “Suid-Afrikaanse” pasta as jy nie vol eksotiese vieterjasies is nie. Maar laat ons eers verduidelik hoe ons by hierdie “kook” uitgekom het. Skoonsus vertel van ‘n bekende (en mooie) dame in Rustenburgse skoonheidskringe – iemand wat in hare spesialiseer. Juanita du Plessis (nie, nie daai een nie…) is nie net tweetalig nie, maar ook “tweehandig”. Met ander woorde – sy het twee “regterhande”, of nee, ons bedoel twee “linkerhande”, of nee, ag toemaar, los dit maar… Wat ons eintlik probeer sê is dat sy ewe bedrewe met die haardroeër en borsel in albei hande is, of in enige van die twee hande is… of, ag nee, hier gaan ons al weer... Met die gevolg dat sy albei kante van die kop kan blaas, borsel, kam en krul terwyl sy voor en agter jou staan of as jy dan nou wil, dat sy die voor en agterkant van die kop kan blaas, kam en krul terwyl sy links of regs van jou staan. Ja, dit is omtrent raak opgesom (sjoe, hyg……) 
Elk geval, dit het vir skoonsus laat wonder hoe bedrewe Juanita dalk agter ‘n oond/stoof kan wees as sy hier in die salon so kan raakvat. Ons het ons nie twee keer laat nooi nie en kuier vandag in Juanita se kombuis terwyl sy en haar twee oulike meisiekinders vir ons Alfredo (‘n eg Italiaanse pastagereg) maak. Uiteindelik het ons so lekker met die meisiekinders, die kat en die vet varkie in die erf agter die plaashuis gesels en gespeel dat ons skoon vergeet het om vir Juanita dop te hou om te sien hoeveel keer sy met die linker- of die regterhand in die kastrolle woeker. Maar ja, die pasta smaak vorentoe met of sonder ‘n broodjie en Juanita sê sy het ook ‘n einde-van-die-maand-weergawe (nee, nie net die broodjie nie…)

Read more …ALFREDO A LA JUANITA

Van al die geregte in die wêreld is daar sekerlik nie een wat soveel verskillende variasies het as die immergewilde pasta-gereg nie. Of is daar? Nou dat ek daaraan dink, ek dink die slim mense wat die wêreld se resepte- en kookboeke skryf het dalk nog nie heeltemal van Suid-Afrikaanse potjie gehoor nie. Hierdie is nou letterlik 'n gereg waarvan daar sommer in Suid-Afrika al reeds 'n rits "internasionale variasies" bestaan. Elke kultuur het maar sy eie manier van kosmaak en ja, hier is seker nie 'n gereg wat elke dag deur soveel verskillende mense geëet word nie.
Maar pasta kom beslis naby - net soos potjie "kom" pasta ook in eindelose variasies en elke ou maak sy pasta op sy eie "unieke" manier. En wie se pasta kan nou lekkerder wees as daardie geheime resep wat vroulief of jyself sommer 'n paar keer elke maand uit die kop "haal"? Maar mense leer by mekaar en op dié manier word jou "eie" pasta eintlik al hoe beter. Daarom dat die Rotary-mense in vandeesweek se uitgawe hul pastagereg "Plagiaat-pasta" gedoop het. Dit beteken dat hulle tot op hede by voorslag-kokke afgekyk het en 'n hele paar idees en gedagtes ryker geword het.

Read more …ROTARIËRS SE PLAGIAAT-PASTA
Page 3 of 4